Gyselaarsooreenkoms vir Gaza bereikNovember 22, 2023
Israel se regering en Hamas het ingestem tot ‘n pouse van vier dae in die oorlog om die vrylating van 50 gyselaars toe te laat in ruil vir 150 Palestyne wat in Israel gevange geneem is. Humanitêre hulp sal ook toegelaat word om Gaza binne te kom. Amptenare van Katar, wat die onderhandelinge bemiddel het, sowel as die VSA, Israel en Hamas sê al dae lank ‘n ooreenkoms is op hande. Hamas hou glo meer as 200 gyselaars aan. Israeliese premier Benjamin Netanyahu sê 50 vroue en kinders sal oor vier dae vrygelaat word, waartydens daar ’n pouse in gevegte sal wees. Vir elke bykomende tien gyselaars wat vrygelaat word, sal die pouse met nog ‘n dag verleng word, het Netanyahu gesê, sonder om die vrylating van Palestynse gevangenes in ruil daarvoor te noem.