Namibië moet nou ekonomies loskom van SA: Quinton van RooyenJuly 15, 2025
As Amerikaanse president Donald Trump ‘n invoertarief van 30 persent op Suid-Afrikaanse goedere instel, sal Namibiërs dit aan hul sakke voel, aangesien die land versuim het om sy eie vervaardigingsektor te ontwikkel. Dit is volgens dr. Quinton van Rooyen, Trustco Group Holdings se groep-uitvoerende hoof, wat byvoeg dat die dalende rand reeds alles duurder maak. Hy sê in ‘n facebook-plasing die tariewe-krisis is ‘n wekroep vir Namibië, wat moet besluit of lidmaatskap van die Suider-Afrikaanse doeane-unie nog voordelig is. Goedkoop Suid-Afrikaanse vrugte en groente kan die land binnestroom, wat voordelig sal wees vir gesinne wat met hoë kospryse worstel, maar uiters nadelig vir plaaslike boere. Hy sê Namibië moet loskom van Suid-Afrika se rokspante en op sy eie voete begin staan. Entrepreneurs moet ons uitvoere direk en kragtig na Amerika en Europa stoot en nie deur Suid-Afrikaanse middelmanne gaan nie, en Walvisbaai en Lüderitz moet ons primêre handelspoorte word, nie Durban nie.