Meer oor staat se saak teen Austin ElindiJuly 31, 2025
Die staat staan borgtog teen in die saak teen Austin Elindi en Connie van Wyk, wat deur die Teenkorrupsie-kommissie gearresteer is in verband met die Namcor-bedrogskandaal. Hulle staan tereg op aanklagte ingevolge die Wet op Korrupsie en die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad. Elindi besit Erongo Petroleum, ‘n maatskappy wat Namcor glo meer as 200 miljoen Namibiese dollar skuld. Hy was na bewering kop in een mus met voormalige Namcor-topbestuurslede om die onderneming te bedrieg. Van Wyk is die uitvoerende hoof van Enercon, wat ook in die bedrogaanklagte gelys is. Die staat beweer ‘n sindikaat, waaronder Austin Elindi, sy pa Peter, sy oom Malakia en andere, het Namcor uit sowat 480 miljoen dollar bedrieg. Die borgtogverhoor van die agt ander beskuldigdes sal môre voor landdros Linus Samunzala in die Windhoek-laerhof voortgaan. Elindi en Van Wyk ook môre afsonderlik verskyn vir die vasstelling van datums vir hul borgtogverhoor. Advokaat Menencia Hinda het vir die staat verskyn.