Hengari kry N$15 000 borg na 3 maande in selleAugust 7, 2025
Voormalige landbouminister Mac Hengari is borgtog van 15 000 Namibiese dollar toegestaan in die Windhoek-landdroshof. Hy is sedert 26 April in aanhouding op ‘n klag van regsverydeling. Dit kom na hy na bewering ‘n klaagster wat ‘n verkragtingklag teen hom gelê het, 220 000 Namibiese dollar aangebied het om die klag terug te trek. Hengari ontken die bewerings en het vroeër getuig dat die klaagster agter tralies moet wees en nie hy nie. Dit is omdat sy hom gebel het om ‘n ontmoeting te reël en betaling te eis terwyl sy onder polisie-waarneming was. Hengari het aangevoer dat sy inhegtenisname deel van ‘n lokval was.