Deense dieretuin vra vir ongewenste troeteldiere om sy roofdiere te voerAugust 11, 2025

Die Aalborg Dieretuin in Denemarke het ’n ongewone versoek aan die publiek gerig: Skenk jou gesonde, maar ongewenste troeteldiere om die roofdiere te voed. Die dieretuin vra spesifiek vir lewende hoenders, konyne en proefkonyne, wat volgens hulle deur opgeleide personeel “’n sagte genadedood” toegedien sal word. Perde word ook aanvaar, mits hulle aan sekere gesondheidsvereistes voldoen en ’n perdepaspoort het. Eienaars wat perde skenk, kan moontlik belastingverligting kry.

In ’n Instagram-plasing verduidelik die dieretuin dat hulle ’n verantwoordelikheid het om die natuurlike voedselketting na te boots. Kleinvee vorm ’n belangrike deel van die dieet van roofdiere soos die Eurasiese rooikat, en die vleis herinner die diere aan wat hulle in die natuur sou jag. Ander roofdiere in die dieretuin sluit leeus en tiere in.

Skenkings van klein diere word op weeksdae aanvaar, met ’n maksimum van vier op ’n slag sonder afspraak. Perdeskenkings moet vooraf gereël word en die diere mag nie binne die afgelope 30 dae vir siektes behandel gewees het nie. Volgens adjunkdirekteur Pia Nielsen is dit al vir baie jare praktyk om kleiner vee aan die karnivore te voer. “Om karnivore aan te hou, beteken jy moet hulle voorsien van vleis – verkieslik met pels, bene en ander dele – om so ’n natuurlike dieet as moontlik te bied,” verduidelik sy.

Sy voeg by dat dit sin maak om diere wat om verskeie redes ‘n genadedood moes kry, op hierdie manier te gebruik. “In Denemarke is hierdie praktyk algemeen, en baie van ons gaste waardeer die geleentheid om by te dra.” Die dieretuin se beleid is daarop gemik om beide voedsel van hoë voedingswaarde te verskaf en die diere se natuurlike instinkte te stimuleer.

Foto verskaf