Skool-koshuis en saal ingewy, na 9 jaar se konstruksieAugust 28, 2025

President Netumbo Nandi-Ndaitwah het die nuwe Ndoro Gedenkskool-koshuis en veeldoelige saal in Kongola in die Zambezi-streek amptelik ingewy. Die koshuis, wat 160 meisies en 160 seuns kan huisves, sal ‘n beduidende verskil maak vir kinders wat tot 12km per dag moes stap om te kan skoolgaan. Die gebou is toegerus met sonkrag en ‘n bystand-kragopwekker, asook ‘n rioolstelsel waarvan behandelde water vir besproeiing gebruik kan word. Drie boorgate voorsien water aan die skool en die omliggende gemeenskap. Bouwerk aan die koshuis het in 2016 begin en is onlangs voltooi. Nandi-Ndaitwah het in haar toespraak gesê dit is onaanvaarbaar, en die bestuurders van regeringsprojekte aangemoedig om die voltooiing daarvan binne die ooreengekome tydraamwerke te verseker.