Sterftesyfer in NCS/NamPol ongeluk styg tot 16September 1, 2025

Die sterftesyfer in die naweek se gru-botsing naby Mariental, een van die dodelikste in 30 jaar, het tot 16 gestyg. Buiten vir die 11 lede van korrektiewe dienste, twee polisiebeamptes en een burgerlike wat Saterdag dood is ná ‘n tromp-op-botsing tussen ‘n polisievangwa en ‘n voertuig wat tronkbewaarders vervoer het, het nóg ‘n lid van die polisie en een van korrektiewe dienste Saterdagaand en Sondagoggend onderskeidelik in die hospitaal beswyk. Vyf beseerdes, van hulle in ‘n kritieke toestand, is in die hospitaal in Windhoek. Die oorledenes se liggame is in die polisielykshuis in Windhoek, het veiligheidsminister Lucia Iipumbu gesê. Namibië se dodelikste motorongeluk sedert onafhanklikwording was in Junie 2005 toe 27 mense in ‘n kop-aan-kop-botsing tussen ‘n bussie en vragmotor op die pad tussen Grootfontein en Rundu dood is.