Moeg vir oneffektiewe, korrupte politici vol leë beloftes? Ontmoet Albanië se Kunsmatige Intelligensie-‘minister’ wat korrupsie gaan bekamp!September 22, 2025
In ’n wêreld-eerste het die Albanese premier, Edi Rama, ’n kunsmatige intelligensie-“minister” in sy nuwe kabinet aangestel om korrupsie hok te slaan. Die virtuele figuur, bekend as Diella – wat “son” in Albanees beteken – is Donderdag bekendgestel. Sy word as ’n vrou in tradisionele volksdrag uitgebeeld en beskryf as ’n “kabinetslid wat nie fisies teenwoordig is nie”. Rama beweer dat sy sal toesien dat alle openbare tenders heeltemal sonder korrupsie verloop.
Die toekenning van tenders is lank reeds ’n groot bron van korrupsie in Albanië, ’n land van sowat 2,8 miljoen mense wat daarna streef om by die Europese Unie aan te sluit. Korrupsie bly een van die belangrikste struikelblokke in hierdie proses. Rama se Sosialistiese Party, wat onlangs ’n vierde termyn gewen het, glo dat EU-lidmaatskap binne vyf jaar haalbaar is, met onderhandelinge wat teen 2027 afgehandel kan word.
Nietemin is Diella se aanstelling nie sonder teenstand nie. Opposisieleier Gazmend Bardhi beskryf die virtuele minister as ongrondwetlik en meen Rama se narratief kan nie as ’n wettige staatspos beskou word nie. Regskenners wys daarop dat Diella se amptelike status onseker bly, aangesien sy nie ‘n mens is nie. Daar is ook vrae oor watter vorm van toesig ingestel sal word en hoe moontlike manipulasie van die KI-bot verhoed kan word.
Diella is vroeër vanjaar bekendgestel as ’n virtuele assistent op die e-Albania-diensplatform, waar sy reeds duisende digitale dokumente uitgereik en byna 1 000 dienste verwerk het. Haar nuwe rol as “minister” plaas Albanië egter in die kollig, en laat die wêreld wonder of KI regtig korrupsie kan bekamp.


Fotos verskaf