’n Haai-byt wat nie meer jou vel oop skeur nie?September 29, 2025

Australiese navorsers het nuwe byt-bestande wetsuit materiale getoets teen wit- en tierhaaie en die resultate is ongelooflik. Tierhaaie kon glad nie kritieke skade veroorsaak nie, en selfs die groot withaaie het minder erge wonde veroorsaak as teenoor gewone neopreen.

Dis nie ’n waarborg dat jy heeltemal veilig is nie, maar dit kan die verskil beteken tussen ’n nare kneusplek… en ’n lewe wat gered word.

In Australië het ’n groep navorsers onlangs iets getoets wat jou sommer dadelik laat regop sit: byt-bestande wetsuit materiaal, ja, reg gehoor, ’n duikpak wat kan keer dat ’n haai jou vleis stukkend skeur.

Ons almal weet, haai-aanvalle is skaars, maar as dit gebeur, is die gevolge amper altyd ernstig, groot bloeding, weefselverlies en natuurlik groot trauma. Tot nou toe was die opsie kettingmail, daai swaar metaalpakke wat duikers soms dra. Goed vir beskerming, ja, maar probeer jy daarmee surf of snorkel, dan sink jy soos ’n klip.

Daarom het navorsers by Flinders University se Southern Shark Ecology Group besluit om nuwe ligter materiale te toets: Aqua Armour, Shark Stop, ActionTX-S en die Brewster-materiaal. Hulle het selfs in die waters van Neptune en Norfolk Island ingegaan, tuistes van wit en tierhaaie en die monsters met aas gelok. In plaas van mense in die water, het hulle slim ’n houtbord gebruik, bedek met ’n gel wat die digtheid van menslike spiere naboots, en daaroor die wetsuitmateriaal. Dan word dit voor die haai gehengel totdat die dier toehap.

Die resultate? Verrassend goed. Tierhaaie het nie een keer ’n kritieke wond veroorsaak nie, en selfs die groot withaaie het minder skade aangerig as teenoor gewone neopreen. Professor Charlie Huveneers sê al vier die nuwe materiale het die ergste sny- en skeurwonde beduidend verminder.

Nou, dit beteken nie jy’s heeltemal veilig nie – die druk van ’n haai se kakebeen kan steeds kneusplekke en interne beserings veroorsaak. Maar waar dit regtig tel, is bloedverlies en groot oop wonde. En dáár maak hierdie nuwe wetsuit-materiaal ’n massiewe verskil.

Vir kusgemeenskappe en toerismebedrywe, kan dit selfs ’n spelveranderer wees, minder vrees, meer beskerming, en dalk net daardie ekstra kans om lewendig uit die water te kom.

So, volgende keer as jy droom van branderplankry tussen die haaibevlekte golwe, onthou: tegnologie hou jou rug, of liewer, jou vel, veilig.

Foto: Verskaf