Vervalste geld in sirkulasie in SuideSeptember 29, 2025
Twee tieners, ‘n seun van 19 jaar en ‘n meisie van 17, verskyn vandag in die landdroshof op Keetmanshoop ná vervalste geld ter waarde van 72 200 Namibiese dollar Vrydag na bewering in hul besit gevind is. Die meisie, ‘n leerder van die JA Nel Sekondêre Skool op dié dorp, wou glo ‘n porsie aartappelskyfies by die skool se entrepreneursdag koop en met vervalste note betaal. Een van die leerders wat die skyfies verkoop het, het agtergekom dat die 200-dollarnoot waarmee sy wou betaal, vervals was. Sy het dit onder die aandag van ‘n onderwyser gebring. Toe die verdagte daarmee gekonfronteer word, het sy gesê sy het die geld by haar kêrel gekry en dat daar nog ‘n sak vol geld by hul huis is. Die polisie het die huis deursoek, op die vervalste geld afgekom en die twee jongmense in hegtenis geneem. Die polisie-ondersoek duur voort. In ‘n afsonderlike voorval, het ‘n 24-jarige man Vrydag ‘n bottel drank op Berseba met ‘n vervalste 200-dollarnoot probeer koop. Hy is gearresteer en sal vandag ook in die landdroshof op Keetmanshoop verskyn.