Vier gewapende rooftogte in hoofstad oor die naweekSeptember 29, 2025
Vier gewapende rooftogte het die naweek in Windhoek plaasgevind. In die Lafrenz-nywerheidsarea is die bestuurder van ‘n Audi Vrydag beroof toe ‘n onbekende motor die pad versper het. Drie verdagtes, twee met pistole, het uit die voertuig gespring en die man aangehou terwyl hulle sy besittings en motor ter waarde van 280 000 Namibiese dollar in totaal gesteel het. In nog ‘n voorval is twee mense Vrydagaand deur drie mans met ‘n vuurwapen en ‘n mes by City Hill Eros oorval en van hul besittings ter waarde van 40 000 dollar beroof. Saterdagoggend het vier mans, een met ‘n pistool en die ander met messe, ‘n man in Khomasdal beroof toe hy sy voertuig in die motorhuis parkeer het. Hulle het hom aangehou, toegang tot sy huis verkry en besittings ter waarde van 650 000 dollar gesteel. Sondagoggend het twee mans, een met ‘n pistool en die ander met ‘n mes, by ‘n huis in Klein Windhoek ingebreek, twee mense aangehou en besittings ter waarde van 45 000 dollar gesteel. Niemand is nog in verband met enige van die voorvalle aangekeer nie.