Ministerie skarrel oor omvang van Etosha-brandOctober 1, 2025

Die omgewingministerie hou vol dat bevestigde diere-ongevalle in die verwoestende Etosha-brand staan op een olifant, nege wildsbokke en een ietermagô. Dit volg na foto’s op sosiale media versprei is van ‘n dooie olifant en ‘n erg gebrande olifant. Die ministerie het oor laasgenoemde foto gesê dit lyk of dit met KI geskep is, en het nie kommentaar gelewer op ‘n plasing dat die foto eg is, deur professionele fotograaf Koos Reynecke geneem is, en die olifant deur ‘n veearts uitgesit is nie. Woordvoerder Ndeshipanda Hamunyela sê die ministerie se helikopter, vliegtuie en twee weermag-helikopters hou aan om die situasie te monitor en diere-ongevalle te identifiseer. Die ministerie gee toe hulle weet nie van al die gevalle wat op sosiale media gedeel word nie, en vra dat enigiemand wat op ‘n karkas of ‘n beseerde dier afkom, die ligging daarvan aan die ministerie moet kommunikeer.