NLU wys gebrek aan effektiewe veldbrand-wetgewing uitOctober 3, 2025

In die nasleep van die Etosha-brand wys die Namibië Landbou-unie uit dat daar ‘n gebrek aan effektiewe wetgewing rondom veldbrande bestaan. Daar is wel belangrike bepalings rondom die voorkoming en bestryding van veldbrande in die voorgestelde nuwe Bosbouwet en -regulasies, maar die wet sloer reeds etlike jare by die regering. Die omgewingministerie het op 25 September vanjaar by ‘n werkswinkel ’n konsep-beleidsdokument bespreek oor die strategiese bestuur van veldbrande vir die tydperk 2026 tot 2031. ’n Soortgelyke konsep-beleid vir veldbrandbestuur vir 2020 tot 2025, is egter nooit deur die regering goedgekeur en geïmplementeer nie. Die unie spreek die hoop uit dat die regering die konsep-wette en beleidsdokumente sal prioritiseer en spoedig goedkeur en implementeer.