257 huise in Karibib kry elektrisiteitOctober 16, 2025

Die elektrifisering van 257 huise in Karibib is vandag deur die adjunk-eerste minister en energieminister Natangue Ithete ingehuldig. Hy het by die seremonie gesê 133 huise het krag gekry onder die diensvlakooreenkoms tussen sy ministerie en ErongoRED, terwyl kragvoorsiening aan 124 huishoudings deur die Navachab-myn gefinansier is in samewerking met die Karibib-dorpsraad. Hy het gesê die prestasie is deel van NDP 6, wat 70 persent elektrisiteitstoegang teen 2030 teiken. Sowat 47 persent van huise is nou aan die nasionale netwerk gekoppel, terwyl ongeveer 12 persent op sonkrag-oplossings staatmaak. Ithete sê die ministerie gaan voort om met plaaslike owerhede en kragvoorsieners vennootskappe aan te gaan om universele toegang tot elektrisiteit teen 2040 te verseker. Hy het myne, fabrieke en maatskappye in die streek aangemoedig om deur hul korporatiewe sosiale verantwoordelikheid-programme by te dra tot infrastruktuurprojekte.