Skerp maand-tot-maand daling in residensiële bouplanne in WindhoekOctober 17, 2025
Nuwe wooneenhede was verantwoordelik vir 33 van die totale 207 goedkeurings wat in September by Stad Windhoek geregistreer is, volgens IJG Securities se bouplanne-verslag. Dit is ‘n 21,4 persent maand-tot-maand afname vergeleke met die 42 wooneenhede wat in Augustus goedgekeur is. In waardeterme is 59,6 miljoen Namibiese dollar se residensiële eenhede goedgekeur, 44,9 persent minder as die 108,2 miljoen dollar se residensiële goedkeurings in Augustus. Tien wooneenhede is voltooi, ter waarde van 18,5 miljoen dollar. Op ‘n jaar-tot-datum basis is 105 wooneenhede voltooi, ter waarde van 179,4 miljoen dollar. Dit is ‘n afname van 36,2 persent in terme van waarde, vergeleke met dieselfde tydperk in 2024.