Erindi se mensgemaakte waterval laat wenkbroue ligOctober 21, 2025
Boere naburig aan Erindi het groot kommer oor waterverbruik by die privaat wildreservaat. ‘n Amerikaner, Ed Beaulieu, bekend as Ed the pond professor, het so ver terug as Maart verlede jaar by die reservaat aangekom en die reuse waterval-stelsel, drie-en-’n-half sokkervelde groot as trekpleister, by die lodge gebou. Volgens die YouTube-video wat deur Beaulieu gedeel is, sirkuleer 681 kubieke meter per uur deur die stelsel met ‘n ondergrondse reservoir van 190 kubiek. Die stelsel voer ook in by die reservaat se Lake Eden. Intussen het Erindi aansoek gedoen om sy Lake Rhino te rehabiliteer en daardie water in Eden in te voer, maar ook om ondergrondse bronne te benut om die mere vol te hou. Namibië se gemiddelde tempo van verdamping kan tot vyf keer die gemiddelde reënval wees. Van die boere kla reeds oor wanpresterende boorgate.