Nathan Chase wen RMB-velddriekamp enduro-titelOctober 21, 2025

Die uitdagende jaarlikse RMB-velddriekamp by die Oanobdam naby Rehoboth se algehele manswedloop oor die enduro-afstand is deur die gunsteling, Nathan Chase gewen. Chase het die 1,1km swem, 28km fietsry en 8,4km hardloop in 1 uur, 55 minute en 13 sekondes voltooi. Die veteraan Mark Spath het tweede gekom, met Jan-Louis Mostert derde oor die wenstreep. Die Sprint-item oor 600m swem, 14km fietsry en 4,2km hardloop is deur Nathan se 14-jarige broer Micah Chase in 1 uur, 4 minute en 46 sekondes gewen. Die wenner van die vroue Sprint-item, Lillian Kibble, het ook die meisies Onder-16 kategorie ingepalm. In die Super Sprint oor 300m swem, 5,7km fietsry en 2,5km was Tristan Buttner eerste oor die wenstreep in die manskategorie, terwyl Sofia Glen-Spyron die vrouekategorie gewen het.