City Power ontken klopjag deur Valke July 26, 2025

City Power het berigte van ’n klopjag en dokumentbeslaglegging deur die Valke by sy hoofkantoor in Johannesburg ontken. Vrydag is berig die Valke het ‘n klopjag uitgevoer as deel van ‘n ondersoek na korrupsie van 500 miljoen rand. Volgens News24 was die uitvoerende hoof van die maatskappy, Tshifularo Mashava, die hoofteiken van die ondersoek wat fokus op buitensporige tenders en betalings vir onvoltooide werk. City Power het wel bevestig dat die Valke inligting versoek het en dat hulle hul volle samewerking sal gee. Die klopjag volg op verskeie berigte van finansiële wanbestuur by City Power, wat ‘n verlies van drie miljard rand in die vorige boekjaar getoon het met ‘n negatiewe bankbalans van meer as 16 miljard rand.