Vermeende sindikaat-lede verskyn vandag, ook op moordklagteJuly 31, 2025

Die verdagte wat verbind word met die skietdood van Fiina Nghifikwa in Wanaheda toe sy en ‘n vriendin na ‘n kamer te huur gaan kyk het, sal vandag saam met sy beweerde mede-sindikaatlede in die Katutura landdroshof verskyn. Die vyf verdagtes is Dinsdag gearresteer. Hulle was na bewering betrokke by ‘n reeks gewapende rooftogte by vulstasies in Windhoek tussen April en Julie, asook die transito-rooftog by Choppies in Khomasdal. Nghifikwa en haar vriendin is op 22 Julie deur die verdagte ontmoet, wat hulle die kamer sou gaan wys. Toe hulle in sy voertuig geklim het, het hy na bewering ‘n vuurwapen op hulle gerig en hul eiendom gesteel. Nghifikwa is in die proses geskiet en is later by die Katutura gesondheidsentrum dood verklaar.