Nuwe wêreld sonder sonlig is ontdek 9,4km onder die seeAugust 4, 2025

’n Span Chinese wetenskaplikes het ’n onbekende wêreld 9,4km (31 000 voet) onder die Stille Oseaan ontdek, waar lewe sonder enige sonlig floreer. Hierdie buitengewone ontdekking is gemaak tussen Japan en Alaska deur die Chinese Akademie vir Wetenskappe, en is die diepste bekende ekosisteem van sy soort.

Wat hierdie ontdekking besonders maak, is dat die organismes glad nie van sonlig afhanklik is nie. In plaas van fotosintese, gebruik hierdie diepsee-lewensvorme ‘n proses genaamd chemo-sintese. Mikrobes verander chemikalieë soos metaan en waterstofsulfied in organiese materiaal — die basis van ‘n volledige voedselketting in totale duisternis.

Die ekspedisie het met die duikboot Fendouzhe plaasgevind, een van die min vaartuie wat sulke ekstreme dieptes kan bereik. Wat hulle daar onder gesien het, het hulle stomgeslaan: uitgestrekte velde vol buiswurms en mariene slakke wat op die seebodem leef, heeltemal geïsoleer van die res van die wêreld.
Die wetenskaplikes sê dit is die eerste keer dat mense hierdie gebied direk waargeneem het, en dit is selfs dieper as waar die wrak van die Titanic (wat op 3,8 km lê) gevind is. Die ontdekking is in die vaktydskrif Nature gepubliseer.

Volgens navorsers toon hierdie bevinding dat lewe selfs in die mees uiterste omstandighede kan aanhou bestaan — iets wat hoop gee dat daar dalk ook lewe elders in die heelal mag wees. Aangesien slegs ’n klein fraksie van die oseaan tot dusver verken is, bly die moontlikheid van verdere verrassings groot.

Foto verskaf