Ed Sheeran en Rupert Grint herenig vir nuwe musiekvideoAugust 6, 2025

Ed Sheeran het ná 14 jaar weer met akteur Rupert Grint saamgespan vir die musiekvideo van sy nuwe enkelsnit A Little More. Die twee het laas in 2011 saamgewerk aan die video vir Lego House, waarin Grint as Sheeran se obsessiewe dubbelganger en aanhanger verskyn het.

In dié oorspronklike video is Grint se karakter uiteindelik gearresteer ná hy by Ed se toerbus ingebreek en hom op die verhoog probeer na-aap het. In die nuwe lokprent vir A Little More, wat Donderdag, 7 Augustus vrygestel word, sien aanhangers hoe die “stalker” uit die tronk vrygelaat word – ‘n direkte opvolg op die oorspronklike verhaal.

Ed het op Instagram geskryf: “Ek en @rupertgrint is herenig. Ek het hierdie wilde idee gehad ná ek die liedjie geskryf het, en Rupert was dadelik aan boord. Dis ‘n heeltemal mal video vir ’n energieke en lekker liedjie. Ek dink dit gaan ’n gunsteling wees.”

Rupert Grint is al jare lank dikwels vir Ed aangesien. In 2017 het hy selfs ‘n humoristiese parodie-video gemaak waarin hy beweer het dat Ed Sheeran bloot sy alter ego is. In die video het hy ‘n Gryffindor-hemp onder Ed se kenmerkende flanel ontbloot en gesê: “Ek is Rupert Grint. Ek het ’n karakter geskep – Ed Sheeran. ’n Vreemde naam, né?”

Die parodie het geëindig met Grint se dramatiese bekentenis: “Ek kan dit nie meer balanseer nie. Ed is nie meer nie!” Met hierdie nuwe samewerking laat Sheeran en Grint hul unieke sin vir humor en kreatiwiteit herlewe – tot groot opwinding van aanhangers wêreldwyd.

Foto & video verskaf