Mynbousektor ruggraat van Namibië se ekonomie: CirrusAugust 25, 2025

In sy jongste ontleding van die mynbedryf sê Cirrus Namibië se mynbousektor is die ruggraat van die ekonomie en dra by tot werksgeleenthede, uitvoerverdienste, inkomende beleggings en belastinginkomste. Die bedryf se belasting en tantieme dra gemiddeld 4,1 persent van die regering se jaarlikse inkomste by. Mynboumaatskappye staar hoër korporatiewe winsbelastingkoerse in die gesig as nie-mynboumaatskappye, terwyl hulle ook ‘n tantieme betaal op die kommoditeite wat hulle produseer. Hierdie tantieme word gewoonlik vasgestel op ‘n persentasie van hul inkomste, ongeag of hulle winsgewend is. Die algehele belastingbydraes deur die mynbousektor oor maatskappybelasting, tantieme, uitvoerheffings en persoonlike inkomstebelasting dra gemiddeld 9,1 persent van die totale regeringsinkomste by. Dit kan egter wyd wissel, van ‘n laagtepunt van 6,9 persent in 2014 tot ‘n hoogtepunt van 10,6 persent in 2021. Hierdie bydraes tot die fiskus word beïnvloed deur kommoditeitspryse, die wisselkoers en mynproduksie.