Sacky betwis steeds Chinhengo se aanstelling, Fishrot uitgestelSeptember 19, 2025

Die voormalige justisieminister Sacky Shanghala en sy Fishrot-medebeskuldigdes James Hatuikulipi en Pius Mwatelulo, het die Hooggeregshof genader om ‘n uitspraak van die Hoërhof om te keer wat die aanstelling van die voormalige waarnemende regter in die saak, Moses Chinhengo, bevestig het. Adjunk-regter-president Hannelie Prinsloo het in Augustus na ‘n aansoek beslis dat sy nie die 69-jarige Chinhengo se aanstelling sou omkeer nie. Die drie argumenteer dat Prinsloo se interpretasie van die Grondwet verkeerd was, en dat sy verkeerdelik bevind het dat waarnemende regters nie aan aftree-ouderdomsbeperkings onderworpe is nie. Hulle voer aan dat Chinhengo se aanstelling van die begin af ongeldig was en dat al sy uitsprake sedert September 2023 nietig verklaar moet word. Regter Marlize du Plessis, wat aangestel is om die verhoor soos geskeduleer te begin na Chinhengo onttrek het, het gelas dat dit in November sal voortgaan. Intussen word uit Zimbabwe berig dat Chinhengo vanoggend in ‘n hospitaal oorlede is.