Hoof-Kaza veldwagter in hof na renosterstroperyOctober 7, 2025

Die hoof-veldwagter vir die Kavango-Zambezi oorgrens-bewaringsgebied, of Kaza, het in die Okahandja-landdroshof verskyn op aanklagte van sameswering om spesiaal beskermde wild te jag, en die besit van ‘n vuurwapen en ammunisie sonder ‘n lisensie. Willem Ponahazo het na bewering in April vanjaar ‘n geweer na Windhoek gekoerier, wat deur vermeende stropers afgehaal is en gebruik is om ‘n renoster in die Okahandja-distrik te stroop. Ondersoeke het die geweer na Ponahazo terugherlei. ‘n Lasbrief vir sy arrestasie is uitgereik, maar hy was reeds in die Verenigde Koninkryk vir studies, na bewering sonder toestemming. Hy het meer as ‘n week gelede teruggekeer en was veronderstel om op 1 Oktober te begin werk, maar het homself oorgegee toe hy glo van die lasbrief verneem het. Die saak is tot 13 Oktober uitgestel vir ‘n formele borgtogaansoek.