Meatco lê kriminele klag oor 400 bees wat by voerkraal verdwynOctober 13, 2025
Meatco het ‘n kriminele klag by NamPol ingedien oor ernstige onreëlmatighede wat in die bestuur van beeste by een van sy gekontrakteerde voerkrale ontbloot is. Meatco sê in ‘n verklaring daar is aanvanklik sowat 400 beeste vermis, maar dit kan kan toeneem namate forensiese ondersoeke voortduur. Die voerkraal is nie genoem nie, maar daar is reeds wyd berig oor die 400 bees wat by die Linden Beef-voerkraal vermis geraak het. Linden Beef is intussen gelikwideer. Meatco sê na ‘n interne oorsig en regsondersoek is verdagte bewegings en teenstrydighede in beesrekords geïdentifiseer. Die ondersoek impliseer aksies wat toegeskryf word aan Patrick Liebenberg, wat voorheen as waarnemende uitvoerende hoof gedien het en tans die pos van uitvoerende beampte: vee -aankope en produksie by Meatco beklee. Liebernberg is in Julie geskors hangende die ondersoek. Die klag beweer onder meer dat beeste onwettig tussen voerkrale beweeg is, wat veetellings verkeerd voorgestel het, verliese versteek het en beide Meatco en sy eksterne ouditeure mislei het. Verdere bewerings sluit in die belemmering van die verslagdoeningsprosesse en die wanvoorstelling van betalings wat met beesbewegings verband hou.