Jeugaktivis ook swaar beboet in rioolstort-sageOctober 23, 2025

Die jeugaktivis Armando Pieters is sewe boetes van ten minste 5 200 Namibiese dollar deur die Windhoek Stadspolisie opgelê nadat rioolafval by die Katutura Munisipale kantoor gestort is. Pieters sê hy is na die Stadspolisie se Khomasdal-kantoor ontbied, waar ‘n inspekteur eenvoudig die boetes uitgereik het sonder dat hy ondervra is. Pieters sê hy was bloot teenwoordig toe gemeenskapslede van die Katutura Sentrale Kiesafdeling, onder leiding van Shaun Gariseb, die riool gestort het. Hy sê toe hy vra hoekom hy so swaar beboet word, was die antwoord dat die Stadspolisie ‘n instruksie gekry het dat die boetes aan alle betogers uitgereik moet word, ongeag die vlak van deelname. Die boetes sluit in 500 dollar vir saamkom in ‘n openbare spasie, 1 000 dollar vir die maak van onwelvoeglike gebare, en 750 dollar vir die gooi of mors van afval. Pieters het geweier om skuld te erken en sal die kwessie op 18 November in die hof betwis.