NamPost sê jammer vir chaos, 64% betaalOctober 28, 2025

NamPost het ‘n openbare verskoning aan maatskaplike toelae-begunstigdes en belanghebbendes uitgereik vir die ontwrigtings tydens die loodsfase van die nasionale maatskaplike kontanttoelae-betalings- en herregistrasieprogram. Met die bekendstelling van die nuwe betalingsmodel op 13 Oktober het baie ontvangers vertragings en logistieke uitdagings ondervind. NamPost sê 191 032 toelae, of 64 persent van die 299 637 kwalifiserende betalings, is teen 24 Oktober uitbetaal. Alle mobiele spanne is nou ten volle operasioneel en streekkantore het glo werksure verleng om alle klante te bedien. ‘n Gestruktureerde betalingsskedule vir November is vrygestel om verdere ontwrigtings te voorkom. Mobiele betalings sal op 3 November begin, terwyl betalings by takke ‘n verspreide tydlyn sal volg, gebaseer op die tipe toelaag. Begunstigdes word versoek om streng by hul aangewese datums te hou.