Elmero StraussJune 15, 2023
Elmero het sy uitsaailoopbaan in Mei 2021 by Connected Rhythm, ’n aanlyn jeugstasie, begin. Nadat die stasie ongelukkig tot stilstand gekom het, het hy in Januarie 2023 aangesluit by Kanaal 7 se gewilde Country Kuier-program as omroeper.
Sy liefde vir radio en storievertelling het egter lank voor dit begin. As jong seun het hy sy suster se radio gebruik om homself op te neem, en selfs geskiedenisboeke voorgelees asof hy nuus aanbied. Hierdie kinderlike passie het uiteindelik ’n lewensroeping geword.
In September 2024 het Elmero ’n sesmaande kursus voltooi onder die bekroonde sportkommentator Hennie Koortsen, waar hy uitmuntende terugvoering ontvang het. Sy unieke kombinasie van humor, kreatiewe stemwerk en spontane energie maak van hom ’n omroeper wat luisteraars altyd verras en vermaak.
Benewens radio is Elmero ’n musikant, verhoogkunstenaar en aanbieder. Hy is ewe tuis agter ’n mikrofoon as op ’n verhoog, of dit nou is om te sing, kitaar te speel, te MC of in aanbidding te lei. Met sy passie vir musiek, sy liefde vir sy gesin, en sy diep geloof in die Here, leef hy volgens die oortuiging dat die lewe ernstig genoeg is, daarom behoort mense vreugde te bring, liefde uit te deel en elke oomblik ten volle te geniet.
Om uiteindelik die titel van omroeper te dra, is vir Elmero die vervulling van ’n wedloop wat reeds in 2007 begin het. Sy toewyding, entoesiasme en liefde vir die medium maak van hom ’n stem wat sy plek in die Namibiese uitsaailandskap kom vestig het en steeds groei.